12. U het presies met ons en ons leiers laat gebeur wat U ons beloof het. Daar was nog nooit so ’n groot ramp op aarde soos die een wat U oor Jerusalem laat kom het nie.
13. Elke vervloeking wat in Moses se wet staan, het oor ons gekom. Nogtans het ons ons nie voor die Here verootmoedig en gebreek met ons sondes en gesoek na u waarheid nie.
14. Die Here het teëspoed oor ons laat kom. Die Here ons God is reg in alles wat Hy doen, want ons het nie na Hom geluister nie.
15. “Here, ons God, U het u volk met krag uit Egipte verlos en so die goeie Naam gemaak wat U vandag nog het. Maar ons het oortree. Ons het goddeloos opgetree.
16. Here, tree regverdig op en neem weg u vurige woede van u stad Jerusalem, daar waar u tempel is. As gevolg van die sonde en die oortreding van ons voorouers het Jerusalem en u volk ’n bespotting geword in die oë van almal wat rondom ons woon.
17. “Ons God, luister tog na die gebed van u dienaar en sy smeking. Ter wille van Uself, word tog weer goedgesind teenoor u verwoeste tempel, Here.
18. “Spits tog u ore, maak oop u oë, sien ons ellende raak! Kyk hoe lyk die stad wat u Naam dra! Ons vra dit nie omdat ons regverdig is nie, maar ons smeek U omdat U barmhartig is.
19. Here, hoor tog! Here, vergewe ons! Here, luister tog en doen iets daaraan! Moenie nog wag nie, o God, want u stad en u volk dra u Naam.”
20. Ek het aangehou om te bid en my en my volk se sonde te bely. Ek het gepleit by die Here my God, ter wille van sy heilige tempel.
21. Terwyl ek nog besig was om te bid, het Gabriël, wat ek in die eerste visioen gesien het, na my toe gekom. Dit was teen die tyd dat die aandoffer gebring word.
22. Hy het my ingelig en vir my gesê: “Daniël, ek het na jou toe gekom sodat jy insig kan kry en verstaan.
23. Reeds toe jy begin bid het, is ek beveel om te kom en vir jou te verduidelik. Jy is kosbaar vir God. Luister na die verduideliking sodat jy kan verstaan waaroor die visioen gaan.