21. In Derbe het Paulus en Barnabas begin om die goeie nuus oor Jesus aan die inwoners te verkondig. Baie van die mense het in Jesus begin glo. Daarna het Paulus en Barnabas weer in Listra, Ikonium en Antiogië ’n draai gaan maak.
22. Hulle het die gelowiges moed ingepraat en hulle aangemoedig om op God se pad te volhard. “Ons gaan nog baie swaarkry voordat ons na God se wêreld toe verhuis,” het hulle ook vir die gelowiges gesê.
23. Hulle het ook ouderlinge in hierdie gemeentes aangestel wat moes sorg dat die gelowiges op die regte pad bly. Paulus en Barnabas het saam met hulle gebid en gevas om hulle aan die Here se sorg op te dra.
24. Van daar af het hulle twee deur Pisidië tot in Pamfilië gereis. In die stad Perge het hulle vir die mense van Jesus vertel.
25. Daarna het hulle Attalië toe gegaan, waar hulle ’n skip na hulle tuisstad, Antiogië, gehaal het.
26. Dit was in Antiogië waar Paulus-hulle vroeër met hulle sendingwerk begin het. Daar is Paulus en Barnabas ’n ruk vantevore deur die gelowiges aan die Here se sorg toevertrou. Nou was hulle op pad terug daarheen nadat hulle alles gedoen het wat God vir hulle gesê het om te doen.
27. Toe hulle in Antiogië aankom, het hulle al die gelowiges bymekaargeroep en aan hulle vertel hoe God hulle gebruik het, en hoe mense wat nie Jode was nie tot geloof gekom het.
28. God het Paulus en Barnabas op ’n wonderlike manier gebruik om die goeie nuus oor Christus met mense uit ander volke te deel. Hulle twee het daarna nog ’n hele ruk by die Christene in Antiogië gebly.