11. Toe die mense sien wat Paulus gedoen het, het hulle opgewonde in hulle Likaoniese taal uitgeroep: “Die gode het mense geword! Die gode het na ons toe gekom!”
12. Hulle het gesê Barnabas is Zeus, en dat Paulus Hermes is. Paulus is Hermes genoem omdat hy al die praatwerk gedoen het.
13. Dadelik het die hoofpriester van Zeus se tempel, wat net buite die stad was, ’n aantal bulle en groot blomkranse begin gereed kry. Dit is na die hekke van die stad gebring waar baie mense begin saamdrom het om ’n offer te bring.
14. Toe die Here se twee apostels sien wat besig was om te gebeur, was hulle baie geskok. Hulle het hulle klere van ontsteltenis geskeur en dadelik na die skare toe gehardloop.
15. “Wat vang julle aan?” het hulle bo die geraas uitgeroep. “Ons is doodgewone mense, net soos julle. “Ons het vir julle die goeie nuus oor Christus kom vertel sodat julle kan ophou om hierdie dooie gode van julle te dien. Laat staan al hierdie dinge waarmee julle besig is. Kom na die lewende God toe. Dit is Hy wat die hemel en die aarde en die see en alles daarin gemaak het.
16. “In die verlede het God toegelaat dat al die volke maar hulle eie pad loop.