Lukas 19:23-40 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

23. Waarom het jy nie dan maar my geld in ’n bank belê nie? Dan sou ek dit met rente by my terugkeer kon getrek het.’

24. “Hy het toe aan die omstanders die opdrag gegee: ‘Vat die muntstuk van hom af weg, en gee dit aan die een wat die tien muntstukke het.’

25. Hulle antwoord hom: ‘Meneer, hy het dan alreeds tien muntstukke.’

26. “Ek sê vir julle: ‘Aan elkeen wat het, sal gegee word, en van hom wat nie het nie, sal ook weggevat word wat hy besit.

27. En daardie mense wat teen my vyandig was, wat nie wou hê dat ek koning oor hulle moet wees nie, bring hulle hier en maak hulle hier voor my oë dood.’”

28. Nadat Jesus dit gesê het, het Hy voor die ander uit gegaan, op pad na Jerusalem toe.

29. Toe Hy naby Betfage en Betanië kom, teen die Olyfberg, het Hy twee van sy dissipels vooruit gestuur met die opdrag:

30. “Gaan na die dorpie daar oorkant; by die ingang sal julle ’n donkie kry wat vasgemaak is, waarop niemand nog ooit gesit het nie. Maak hom los en bring hom hier.

31. As enigiemand vir julle vra: ‘Waarom maak julle hom los?’ moet julle só sê: ‘Die Here het hom nodig.’”

32. Die twee dissipels wat deur Jesus gestuur is, gaan kry toe alles net soos Hy vir hulle gesê het.

33. Terwyl hulle besig is om die donkie los te maak, sê sy eienaars vir hulle: “Waarom maak julle die donkie los?”

34. Hulle antwoord: “Die Here het hom nodig.”

35. Hulle het die donkie na Jesus toe gebring. Hulle het hulle bo-klere op die donkie oopgesprei, en Jesus laat opklim.

36. Terwyl Jesus vorentoe beweeg, het die mense hulle bo-klere op die pad oopgesprei.

37. Toe Hy naderkom, reeds op die afdraand van die Olyfberg, het die groot skare dissipels God uit volle bors begin loof en prys oor al die kragtige dade wat hulle gesien het.

38. Hulle het gesing:“Geseënd is Hy wat komin die Naam van die Here,die Koning!Vrede in die hemelen heerlikheid in die hoogste hemele!”

39. Sommige van die Fariseërs uit die skare het vir Jesus gesê: “Leermeester, bestraf jou dissipels!”

40. Jesus het gereageer: “Ek sê vir julle, as hulle stilbly, sal die klippe dit uitroep!”

Lukas 19