16. Nadat hulle alles gehoor het wat Baruk voorgelees het, het hulle bevrees na mekaar gekyk. Hulle het vir Baruk gesê: “Ons moet verseker vir die koning gaan vertel wat ons gehoor het.”
17. Maar eers wou hulle by Baruk hoor: “Sê vir ons, hoe het jy hierdie boodskappe gekry? Kom dit direk van Jeremia af?”
18. Baruk het hulle geantwoord: “Jeremia het vir my presies gesê wat om te skryf, woord vir woord. Ek het dit met ink op die boekrol neergeskryf.”
19. Die amptenare se raad aan Baruk was: “Jy en Jeremia moet liewer iewers gaan wegkruip. Niemand moet weet waar julle is nie!”
20. Die amptenare het die boekrol veilig in Elisama die sekretaris se kantoor weggebêre. Hulle het toe na die paleis toe gegaan en vir die koning alles oorvertel wat hulle gehoor het.
21. Koning Jojakim het Jehudi gestuur om die boekrol te gaan haal. Hy het dit in Elisama se kantoor gaan haal en vir die koning voorgelees terwyl al sy amptenare bygestaan het.
22. Dit was laatherfs. Die koning het in ’n warm deel van die paleis voor die vuur gesit.
23. Baruk het die boekrol in kolomme geskryf. Elke keer as Jehudi drie of vier van hierdie kolomme voorgelees het, het die koning sy mes gebruik om dit uit die boekrol te sny. Hy het deel vir deel in die vuur gegooi. So het hy aangehou totdat hy die hele boekrol verbrand het.
24. Die koning en sy amptenare het geluister na alles wat geskryf was, maar dit het hulle nie banggemaak nie. Hulle het ook nie hulle klere geskeur nie.
25. Selfs nadat Elnatan, Delaja en Gemarja die koning gesmeek het om nie die boek te verbrand nie, wou hy nie luister nie.
26. Hierna het die koning vir sy seun Jeragmeël, Seraja seun van Asriël en ook vir Selemja seun van Abdeël opdrag gegee om Baruk en Jeremia te arresteer. Maar die Here het Baruk en Jeremia weggesteek.