Genesis 38:4-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. Daarna het sy weer ’n seuntjie in die wêreld gebring en hom Onan genoem.

5. Toe haar derde seun gebore is, het sy hom Sela genoem. Hulle was op daardie stadium in Kesib.

6. Toe sy oudste seun Er groot genoeg was, het Juda hom met ’n meisie met die naam Tamar laat trou.

7. Maar omdat Er in die oë van die Here ’n slegte persoon was, het die Here hom laat sterf.

8. Juda sê toe vir Er se broer Onan: “Gaan na jou broer se weduwee Tamar toe en verwek vir jou broer kinders by haar.”

9. Maar Onan was nie bereid om ’n kind te hê wat nie sy wetlike erfgenaam sou wees nie. Dus het hy, elke keer wanneer hy met Tamar gemeenskap gehad het, gesorg dat sy saad op die grond kom om te verhoed dat hy vir sy broer ’n erfgenaam verwek.

10. Vir die Here was dit ’n slegte ding dat hy nie vir sy broer ’n kind wou verwek nie. Daarom het die Here Onan ook laat sterf.

11. Juda sê toe vir Tamar, sy skoondogter: “Gaan terug en woon liewer as ’n weduwee by jou ouers totdat my seun Sela groot genoeg is om met jou te trou.” Maar eintlik was Juda glad nie van plan om dit te doen nie, want hy was bang dat Sela met dieselfde lot as sy broers getref sou word. Tamar het toe na haar ouerhuis toe teruggegaan.

12. Mettertyd het Juda se vrou, Bat-Sua, gesterf. Ná die routyd het Juda en sy vriend Gira van Adullam na Timna gegaan waar skeerders besig was om sy skape te skeer.

13. Iemand het vir Tamar gesê: “Jou skoonpa is op pad Timna toe om sy skape te laat skeer.”

14. Tamar het opgemerk dat Sela nou al groot genoeg was, maar dat Juda nie sy belofte nagekom het nie. Sy het haar rouklere uitgetrek, ’n sluier aangesit en haarself vermom. Toe het sy langs die pad na Timna, by die poort van die dorpie Enajim, gaan sit.

15. Juda het daar verbygekom, haar gesien en gedink sy is ’n prostituut omdat haar gesig toegemaak was.

16. Hy draai toe uit en onderhandel met haar om gemeenskap te hê. Hy het nie geweet dat dit sy skoondogter is nie.“Hoeveel sal jy my betaal?” vra Tamar hom.

17. “Ek sal vir jou ’n bokkie uit my trop stuur,” belowe Juda.“Mits jy vir my ’n pand gee totdat jy dit stuur,” sê sy.

18. “Nou wat wil jy hê?” vra hy.Sy antwoord: “Ek wil jou seël, jou armband en die stok in jou hand hê.” Juda gee toe die goed wat sy gevra het. Hy het met haar gemeenskap gehad en sy het swanger geword.

19. Daarna het sy huis toe gegaan, haar sluier afgehaal en weer haar rouklere aangetrek.

20. Juda het later sy vriend Gira, die Adullamiet, gevra om die bokkie na haar toe te neem en die pand by haar terug te kry. Hy kon haar egter nie opspoor nie.

21. Hy vra toe vir die mense van die plek: “Waar is die tempelprostituut wat hier langs die pad by die poort van Enajim gesit het?”“Ons het nog nooit ’n tempelprostituut hier gehad nie,” het hulle geantwoord.

22. Gira het toe maar teruggegaan na Juda toe en gesê: “Ek kon haar nêrens kry nie en die mense van die dorp sê daar is nie ’n prostituut daar nie.”

Genesis 38