2 Konings 4:28-39 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

28. Toe sê sy: “Meneer, het ek u gevra vir ’n seun? Het ek dan nie gesê u moenie vir my valse hoop gee nie?”

29. Elisa sê toe vir Gehasi: “Maak jou gereed. Vat my kierie in jou hand en gaan. Moenie met enigiemand op die pad praat of hom groet nie. Gaan gou en sit die kierie op die seun se gesig.”

30. Maar die seun se ma sê: “So seker as die Here leef en u self ook leef, ek sal nie huis toe gaan tensy u met my saamgaan nie.” Elisa het toe opgestaan en saam met haar gegaan.

31. Gehasi het vooruitgegaan en die kierie op die kind se gesig gesit, maar daar was geen teken van lewe nie. Hy gaan toe terug na Elisa toe en sê vir hom: “Die seun het nie wakker geword nie.”

32. Toe Elisa daar aankom, het die kind nog dood op die profeet se bed gelê.

33. Hy het alleen ingegaan, die deur agter hulle twee toegemaak en tot die Here gebid.

34. Toe gaan lê hy op die seun met sy mond op dié van die seun, sy oë op die seun s’n en sy hande op die kind s’n. Die seun se liggaam het begin warm word!

35. Elisa staan toe op en stap ’n paar keer heen en weer in die kamer. Toe gaan lê hy weer op die seun. Hierdie keer het die seun sewe keer genies en sy oë oopgemaak!

36. Elisa beveel toe vir Gehasi: “Gaan roep die Sunamitiese vrou!” Toe sy inkom, sê Elisa: “Hier, vat jou seun!”

37. Sy kom toe in, val voor hom neer en buig voor hom, oorstelp van dankbaarheid. Sy het haar seun opgetel en hom ondertoe gedra.

38. Elisa het teruggegaan na Gilgal toe. Daar was egter hongersnood in die land. Eendag, terwyl ’n groep jong profete voor hom sit, sê hy vir sy dienaar: “Sit ’n groot pot op die vuur en maak ’n bredie vir die jong profete.”

39. Een van die jong mans gaan toe om kruie in die veld te soek. Hy kom af op ’n rank met wilde komkommers en pluk daarvan ’n sak vol. Toe hy terugkom, sny hy dit stukkend in die pot sonder dat hy geweet het wat dit was.

2 Konings 4