Yesha'yahu 14:8-20 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

8. Selfs die sipresbome en die seders van die L’vanon is bly oor jou en hulle sê: ‘Sedert jy afgebring is, kom geen snyer teen ons op nie.’

9. Sh’ol, onder, is opgewonde oor jou koms; dit wek al die leiers van die aarde en die konings van die nasies op wat jy onttroon het.

10. Hulle sal almal antwoord en vir jou sê: ‘Selfs jy is swak gemaak soos ons; jy het soos ons geword.’

11. Jou prag en praal en die musiek van jou harpe is afgebring na Sh’ol; maaiers is onder jou uitgesprei en wurms is jou bedekking.’

12. Hoe het jy geval uit die hemel, o môrester, seun van die sonsopkoms! Jy is na die aarde toe afgesny, jy wat die nasies swak gemaak het,

13. maar jy het in jou verstand, wil en emosie gesê: ‘Ek wil opgaan na die hemel; ek sal my troon oplig bo die sterre van God en ek sal sit op die berg van ontmoeting, aan die noordelike uithoek.1 Tim 3:6

14. Ek sal opgaan bo die hoogtes van die wolke; ek sal myself soos die Allerhoogste maak!’Luk 10:15

15. Nogtans sal jy in Sh’ol neergewerp word, in die diepste plekke van die put!

16. Die wat jou sien, sal jou aanstaar, hulle sal oor jou wonder en sê: ‘Is dit die man wat die aarde laat bewe het, wat koninkryke geskud het,

17. wat die wêreld soos ’n wildernis gemaak en sy stede verwoes het, wat nie sy gevangenes toegelaat het om huis toe te gaan nie?

18. Al die konings van die nasies lê in lof en eer, elkeen in sy eie graf,

19. maar jy is uitgewerp uit jou graf, soos ’n verwerpte tak, aangetrek met die doodgemaaktes wat deurboor is met ’n swaard, wat afgaan na die klippe van die put, soos ’n vertrapte lyk.

20. Jy sal nie met hulle in die graf verenig word nie, want jy het jou land verwoes, jou volk doodgemaak. Mag die nageslag van die boosdoeners vir ewig nie genoem word nie.

Yesha'yahu 14