Rigters 20:13-22 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

13. Nou dan, lewer die waardelose manne uit wat in Giv’ah is dat ons hulle kan doodmaak en hierdie boosheid uit Yisra’el uitroei.” Die Binyaminiete wou egter nie na die stem van hulle broers, die seuns van Yisra’el, luister nie.

14. Die seuns van Binyamin het uit die stede in Giv’ah bymekaargekom om uit te trek in oorlog teen die seuns van Yisra’el.

15. Die seuns van Binyamin, vanuit die stede, is op dié dag getel: ses en twintig duisend man wat die swaard uittrek, behalwe die inwoners van Giv’ah wat getel is: sewe honderd uitgesoekte manne.

16. Uit al hierdie manne was daar sewe honderd uitgesoekte manne wat links was; elkeen kon ’n klip na ’n haar slinger sonder om te mis.

17. Toe is die manne van Yisra’el, behalwe Binyamin, getel: vier honderd duisend man wat die swaard uittrek, hulle almal was soldate.

18. Die seuns van Yisra’el het opgestaan, opgegaan na Beit-El en God geraadpleeg en gesê: “Wie van ons moet eerste optrek om te veg teen die seuns van Binyamin?” Toe sê יהוה: “Y’hudah eerste.”

19. Die seuns van Yisra’el het die oggend opgestaan en teen Giv’ah gekamp.

20. Die manne van Yisra’el het uitgegaan om te veg teen Binyamin en die manne van Yisra’el het opgestel vir die geveg by Giv’ah.

21. Toe kom die seuns van Binyamin uit Giv’ah uit en hulle het op dié dag twee en twintig duisend man van Yisra’el teen die grond geslaan,

22. maar die volk, die manne van Yisra’el, het hulleself bemoedig en hulle weer opgestel op die plek waar hulle die eerste dag opgestel het.

Rigters 20