Markos 14:24-40 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

24. Hy sê vir hulle: “Hierdie is My bloed van die nuwe verbond, wat in ruil vir baie uitgestort word.

25. Dit is waar, Ek sê vir julle, Ek sal nie weer van die vrug van die wingerd drink tot op daardie dag dat Ek dit nuut sal drink in die Koninkryk van God nie.”

26. Hulle het lofsange gesing en uitgegaan na die OlyfbergZ’kh 13:7

27. en Yeshua sê vir hulle: “Julle sal almal in hierdie nag skaam wees vir My, want daar is geskrywe: ‘Ek sal die Skaapwagter slaan en die skape sal verstrooi word,’

28. maar wanneer Ek opgestaan het, sal Ek voor julle uitgaan na die Galil.”

29. Kefa sê vir Hom: “As almal sou skaam wees vir U, nie ek nie.”

30. Yeshua sê vir hom: “Dit is waar, Ek sê vir jou, vandag, in hierdie nag voordat die haan twee maal kraai, sal jy drie maal ontken dat jy My ken,”

31. maar hy het meer en meer aangehou en gesê: “Al moet ek saam met U doodgemaak word, ek sal U nooit ontken nie, my Meester.” Almal het net soos hy gepraat.

32. Hulle het gekom by die plek wat genoem word Gat-Sh’manim en Hy sê vir Sy studentevolgelinge: “Sit hier terwyl Ek gaan bid.”

33. Hy vat vir Kefa, Ya’akov en Yoganan saam met Hom en het hoogs ontsteld en swaarmoedig begin word

34. en Hy sê vir hulle: “My gees is tot die dood toe bedroef; bly hier en wees waaksaam.”

35. Hy gaan ’n bietjie verder, val op die grond en bid dat, as dit moontlik was, dié uur by Hom sou verbygaan

36. en Hy sê: “Vader, My Vader, alle dinge is vir U moontlik; laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie My wil nie, maar U wil.”

37. Hy kom en vind hulle terwyl hulle slaap en sê vir Kefa: “Shim’on, slaap jy? Was jy nie in staat om een uur te waak nie?

38. Waak en bid dat julle nie getoets word nie. Die gees is wel gewillig en gereed, maar die vlees is swak.”

39. Weer het Hy gegaan en dieselfde woorde gebid

40. en toe Hy terugkom, vind Hy hulle weer terwyl hulle slaap, want hulle oë was swaar en hulle het nie geweet wat om vir Hom te sê nie.

Markos 14