Markus 8:13-34 Die Boodskap (DB)

13. Jesus het die stryerige Jode daar gelos, in die skuit geklim en na die ander kant van die See van Galilea gevaar.

14. Sy volgelinge het vergeet om genoeg brood in te pak. Hulle het net een by hulle gehad.

15. Jesus sluit toe daarby aan met ’n voorbeeld: “Wees baie versigtig vir die suurdeeg van die godsdienstige Jode wat hulleself die Fariseërs noem en ook vir die suurdeeg van Herodes.”

16. Die dissipels wonder toe onder mekaar waarom Jesus nou juis dit sê. “Dit is seker omdat ons nie genoeg brood saamgebring het nie,” dink hulle toe.

17. Jesus kom toe agter wat hulle besig was om te bespreek. “Julle misgis julle heeltemal,” sê Hy. “Waarom praat julle oor die brood wat julle vergeet het? Is julle so dom dat julle nie kan verstaan wat Ek bedoel nie? Of wil julle dalk nie verstaan nie?

18-19. Julle het oë, maar sien niks nie en het ore, maar gaan soos dowes deur die lewe. Kan julle dan nie onthou hoe baie kos oorgebly het toe Ek met vyf brode vir die 5 000 mense kos gegee het nie?”“Twaalf houers vol,” antwoord hulle vinnig.

20. “En toe Ek met sewe brode 4 000 mense genoeg gegee het om te eet, hoeveel kos was daar toe oor?” vra Jesus.Weer laat hulle nie op hulle wag nie: “Sewe houers vol.”

21. Toe sê Jesus vir hulle: “Kan julle dan nog steeds nie insien dat dit nie brood is waarteen Ek julle waarsku nie?”

22. Toe Jesus-hulle in Betsaida aankom, bring die mense ’n blinde man na Jesus toe en vra Hom baie mooi om die man gesond te maak.

23. Jesus vat toe die man aan die hand en lei hom uit die dorpie uit. Jesus spoeg toe op die man se oë en sit sy hand op die man. “Sien jy enigiets?” vra Jesus hom.

24. Die man kyk toe op en sê: “Ja, ek sien mense, maar net baie vaagweg. Hulle lyk amper soos bome wat rondloop.”

25. Weer ’n keer vat Jesus aan die man se oë. Hierdie keer kon hy alles sien. Sy oë was heeltemal gesond.

26. Jesus sê toe vir die man: “Gaan nou reguit huis toe en moenie eers in die dorp ’n draai gaan maak nie.”

27. Jesus-hulle is van daar af na die klein dorpies rondom Sesarea-Filippi toe. Terwyl hulle op pad was, vra Jesus sy volgelinge: “Wie sê die mense is Ek?”

28. “Hulle verskil nogal daaroor,” kom die antwoord. “Party sê U is Johannes die Doper en ander Elia. Dan is daar ’n klompie wat dink U is een van die spesiale boodskappers van God.”

29. “Maar julle, wat sê julle van My? Wie is Ek?” vra Jesus hulle toe.Petrus sê toe: “U is Christus, die beloofde Redder.”

30. Jesus vra hulle toe mooi om dit nie vir ander te sê nie.

31. Toe begin Hy met hulle oor Homself praat. Hy vertel hulle dat die Redder, die Seun van die mens, baie swaar gaan kry en dat al die belangrikste leiers van die Jode, of dit op politieke of godsdienstige gebied is, teen Hom gaan draai. Hulle gaan Hom doodmaak, maar na drie dae sal Hy weer lewendig word.

32. Jesus het niks weggesteek nie. Petrus gaan staan toe eenkant met Jesus en sê vir Hom dat Hy nie so moet praat nie.

33. Jesus het egter omgedraai en na sy volgelinge gekyk. Hy praat toe streng met Petrus: “Gee pad agter My, Satan!” sê Hy. “Al wat vir jou saak maak, is wat mense wil hê. Jy gee nie om wat God wil hê nie.”

34. Jesus roep die ander mense ook na Hom en sy volgelinge toe en begin met hulle praat: “As iemand my volgeling wil wees, moet hy sy hele lewe vir My gee. Ek sal met niks minder tevrede wees nie. Om My te volg is nie altyd maklik nie. “Dit is soos om jou eie kruis na jou dood toe te moet dra as Ek dit van jou vra. Dit is soos om jou eie doodsvonnis te teken.

Markus 8