40. Die Here sê: “Die vyand sal Moab aanval net soos ’n arend wat vinnig met uitgespreide vlerke op ’n prooi afduik.
41. Hulle sal die stede van Moab inneem en die versterkte skuilplekke oorneem. Daardie dag sal die dapperste soldate net so bang wees soos ’n vrou wat geboorte gee.
42. Moab sal verwoes word en nie langer as ’n nasie beskou word nie omdat hulle arrogant teenoor My, die Here, opgetree het.”
43. Die Here sê: “Vir julle wag daar vreeslike dinge, vanggate en lokvalle, Moab.
44. As daar mense is wat van dié vreeslike dinge probeer wegvlug, sal hulle in ’n lokval beland. En dié wat so gelukkig is om die lokval te mis sal in ’n vanggat val. Ek sal sorg dat nie een van julle wegkom nie. Die tyd het gekom dat Moab gestraf moet word.