Handelinge 14:17-22 Die Boodskap (DB)

17. Tog het Hy op baie maniere gewys dat Hy vir julle omgee. Hy het gesorg dat julle genoeg reën kry en dat daar groot oeste op julle lande is. Hy het julle skure vol kos gepak en julle hart met vreugde volgemaak.”

18. Paulus en Barnabas het kliphard probeer om die skare onder beheer te kry. Uiteindelik het hulle die mense darem so ver gekry om nie ’n offer aan hulle te bring nie.

19. Intussen het ’n groep Jode van Antiogië en Ikonium in die stad aangekom en die skare teen die twee opgesteek. Kort voor lank was die mense so opgesweep dat hulle Paulus onder die klippe gesteek het. Daarna het hulle hom tot buite die stad gesleep en hom daar vir dood laat lê.

20. ’n Klompie gelowiges het om hom kom staan. Paulus het na ’n ruk weer bygekom en opgestaan. Later het hy die stad ingestap. Die volgende dag het hy en Barnabas na Derbe vertrek.

21. In Derbe het Paulus en Barnabas begin om die goeie nuus oor Jesus aan die inwoners te verkondig. Baie van die mense het in Jesus begin glo. Daarna het Paulus en Barnabas weer in Listra, Ikonium en Antiogië ’n draai gaan maak.

22. Hulle het die gelowiges moed ingepraat en hulle aangemoedig om op God se pad te volhard. “Ons gaan nog baie swaarkry voordat ons na God se wêreld toe verhuis,” het hulle ook vir die gelowiges gesê.

Handelinge 14