Esegiël 43:11-18 Die Boodskap (DB)

11. En as hulle dan skaam kry, vertel hulle hoe Ek my huis wil laat lyk. Vertel hulle van die ingange en uitgange van die gebou en die kamers en alles wat Ek hier wil doen. Skryf dit alles op sodat hulle nie sal vergeet nie. Hulle moet die binnekant van die huis van die Here leer ken en weet hoe ’n mens moet optree as jy in my huis kom. Hulle moet doen wat Ek hulle beveel.

12. Wat hulle moet weet, is dat die hele area waar my huis staan, op die top van die berg en die gebied daar rondom, opsy gesit is vir spesiale diens aan My. Daar mag ’n mens slegs met die dinge van die Here besig wees.”

13. So lyk die altaar. Rondom die altaar was ’n voor waarin water kon wegloop. Hierdie voor was ’n halwe meter diep en net so breed. Sy rand rondom was ’n kwart meter breed.

14. Die altaar was van die voor af na die onderste vlak ’n meter hoog. Hierdie onderste vlak was ’n halwe meter wyer as die volgende vlak. Van die onderste na die boonste vlak was die hoogte twee meter. Die heel boonste vlak was ’n halwe meter wyer as die plek waar vuur gemaak word.

15. Die plek waar vuur gemaak word, is twee meter hoog. Op die vier hoeke was daar punte wat soos ’n bees se horings gelyk het en boontoe gewys het.

16. Die plek waar die vuur gemaak word, is vierkantig en was ses meter in deursnee.

17. Die heel boonste vlak was ook vierkantig, sewe meter in deursnee. Die voor wat die water weglei, het ’n rand wat ’n kwart meter breed is en ’n halwe meter diep. Die trap waarteen ’n mens opklim na die altaar, is aan die oostekant daarvan.

18. Toe sê die man met die liniaal vir my: “Mens, die Here my God sê dat jy vir die volk moet sê die dag as hierdie altaar klaar gebou is, moet die mense wat in my huis werk, ’n bul daarop offer vir al die slegte dade wat hulle gedoen het.

Esegiël 43