17. Ek het besluit dat Ek julle sal laat wegtrek van die swaarkry in Egipte. Ek sal julle laat trek na ’n land waarin daar volop kos is. Dit is die land waar die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete op die oomblik woon.’
18. Die leiers van Israel sal aanvaar wat jy vir hulle sê.“Jy moet dan saam met hulle na die koning van Egipte toe gaan. Julle moet vir hom sê: ‘Die Here, die God van die Hebreërs, het na ons toe gekom. Gee tog vir ons kans om vir drie dae lank weg te gaan. Ons wil graag in die woestyn vir die Here ons God offers gaan bring.’
19. Ek weet goed dat die Egiptiese koning julle nie toestemming sal gee om te gaan nie. Hy sal eers gedwing moet word.
20. Daarom sal Ek ingryp en allerhande verskriklike dinge in die land laat gebeur. Eers nadat dit klaar gebeur het, sal hy instem om julle te laat gaan.
21. Ek sal ook die houding van die Egiptenaars teenoor julle verander. Wanneer julle eendag uit die land wegtrek, moet julle nie sonder geskenke weggaan nie.
22. Elke vrou moet haar buurvrou en die mense om haar wat van ander plekke kom, dwing om vir haar silwer en goue juweliersware en klere te gee. Julle moet dit vir julle kinders aantrek. So moet julle hulle terugkry vir wat hulle aan julle gedoen het. Julle moet Egipte kaal uittrek.”