2 Konings 9:20-24 Die Boodskap (DB)

20. Die wag het vir Joram gesê: “Die tweede boodskapper kom ook nie terug nie. En ek dink dit moet Jehu, die seun van Nimsi, wees wat hier aankom, want hy ry soos ’n mal mens!”

21. Die koning het toe beveel: “Kry vir my ’n strydwa gereed!” Koning Joram van Israel en koning Ahasia van Juda het toe op hulle strydwaens vir Jehu tegemoet gery. Hulle het mekaar op die stuk veld ontmoet wat vroeër aan Nabot behoort het.

22. Toe hulle naby aan mekaar was, het Joram geroep: “Jehu, kom jy in vrede?”“Vrede? Wat bedoel jy?” het Jehu gevra. “Hoe kan daar vrede wees terwyl jou ma vreemde gode laat vereer en towery bedryf?”

23. Joram het besef wat aangaan en sy strydwa omgepluk om te vlug. Hy het vir Ahasia geskree: “Dit is verraad, Ahasia!”

24. Jehu het sy boog gespan en Joram tussen die blaaie geskiet. Die pyl het deur sy hart gegaan en hy het net daar bo-op sy strydwa dood inmekaargesak.

2 Konings 9