2 Konings 25:16-26 Die Boodskap (DB)

16. Die brons wat hulle van die tempel af weggeneem het, is vroeër deur koning Salomo vir die tempel laat maak. Dit was sóveel dat dit nie geweeg kon word nie.

17. Om ’n voorbeeld te noem: die twee pilare was elk agt meter hoog en die bronskapiteel bo-op was een en ’n derde meter hoog. Die rooster met die granate wat bo-op die kapitele was, was net van brons gemaak.

18. Nebusaradan het nog ’n klomp mense in Jerusalem gevange geneem. Onder hulle was die hoëpriester Seraja en die priester volgende in rang, Sefanja, asook drie deurwagte van die tempel.

19. In die stad het hy ook die offisier gevang wat in bevel van die soldate was, saam met vyf vriende van die koning en die hoof van die leër se sekretaris wat soldate moes oproep, asook ’n verdere 60 burgers.

20. Hy het hulle almal as gevangenes na die koning van Babel in Ribla geneem

21. wat hulle net daar laat doodmaak het.Só is die hele Juda in ballingskap uit hulle land uit weggevoer.

22. Nebukadnesar het Gedalja aangestel as goewerneur oor die mense wat hy toegelaat het om in Juda agter te bly.

23. Toe die offisiere en soldate hoor dat Gedalja aangestel is, het hulle na hom toe gegaan waar hy in die dorp Mispa was. Die betrokke leiers was Ismael, Joganan, Seraja en Jaäsanja.

24. Gedalja het hulle verseker dat hulle veilig was. Hy het gesê: “Moenie bang wees vir die amptenare uit Babel nie. Bly in die land en wees gehoorsaam aan die koning van Babel. Dan sal alles goed gaan.”

25. Ismael, wat ’n lid van die koninklike familie van Juda was, het in die sewende maand Mispa toe gegaan. Hy het tien manne by hom gehad. Hulle het Gedalja en die klompie Judese en Babiloniese amptenare by hom vermoor.

26. Daarna het al wat Judeër is, belangrik en onbelangrik, asook die leëroffisiere Egipte toe gevlug. Hulle was bang vir wat die Babiloniërs met hulle sou doen.

2 Konings 25