18. Toe daardie mans uit die huis van Miga kom met die beeld en die skouer-kleed en die beeldjies wat hulle gevat het, het die priester vir hulle gesê: “Wat doen julle?”
19. Hulle het vir hom gesê: “Bly stil, jy moet niks sê nie. Kom saam met ons. Jy moet ons priester wees en vir ons leer. Dit is beter dat jy ’n priester is vir ’n hele stam van Israel, nie net vir een man nie.”
20. Die priester het gedink dit is goed en hy het die skouer-kleed en die beeldjies en die beeld gevat en saam met die mense gegaan.
21. Hulle het hulle kinders en oumense en hulle skape en bokke en hulle ander goed voor hulle laat gaan en hulle het verder gegaan.
22. Toe hulle ver weg was van Miga se huis, het Miga ander mense gevra om hom te help om die Dan-mense te volg en te jaag.
23. Toe hy by die Dan-mense kom, het hy vir hulle geskree. Die Dan-mense het omgekyk en gevra: “Wat is fout? Hoekom skree jy so?”
24. Miga het vir hulle gesê: “Julle het my gode gevat wat ek gemaak het, en ook my priester, en julle het weggeloop. Ek het nou niks, en nou vra julle vir my: ‘Wat is fout?’ ”