Handelinge 18:14-25 Bybel vir Almal (ABA)

14. Toe Paulus wou begin praat, het Gallio vir die Jode gesê: “Jode, ek praat met julle. Ek sou geduldig gewees het met julle as hierdie man ’n verkeerde of ’n baie slegte ding gedoen het.

15. Maar julle stry met mekaar oor woorde en name en oor julle eie wette, daarom moet julle self daaroor besluit. Ék wil nie ’n regter wees om oor hierdie dinge te besluit nie.”

16. Gallio het hulle toe uit die hof gejaag.

17. Hulle almal het vir Sostenes, die leier van die sinagoge, gegryp en hulle het hom daar voor die hof begin slaan. Maar Gallio was nie bekommerd oor hierdie dinge nie.

18. Paulus het ’n lang tyd daar by die gelowiges in Korinte gebly. Toe het hy hulle gegroet en hy het met ’n skip weggeseil na die provinsie Sirië. Hy het eers in die hawestad Kenchreë sy hare laat afskeer. Hy het dit gedoen omdat hy ’n gelofte gemaak het. Priscilla en Akwila het ook saam met hom weggegaan.

19. Toe het hulle in Efese gekom, dit is die stad waar Paulus vir Akwila en Priscilla laat bly het toe hy later daar weggegaan het. Paulus het eers na die sinagoge gegaan en hy het daar met die Jode gepraat.

20. Toe die Jode hom vra om langer daar te bly, wou hy dit nie doen nie.

21. Hy het hulle gegroet en gesê: “As God wil hê dit moet gebeur, dan sal ek weer na julle toe kom.”Toe het hy met ’n skip weggeseil van Efese.

22. Nadat Paulus in die hawestad Sesarea aangekom het, het hy na Jerusalem gegaan en hy het die gemeente daar gegroet. Toe het hy na die stad Antiogië gegaan

23. en hy het ’n tyd lank daar gebly.Toe het Paulus weggegaan van die stad Antiogië en hy het van die een plek na die ander plek deur die lande Galasië en Frigië gegaan. Hy het al die gelowiges bemoedig.

24. ’n Jood, Apollos, het in die stad Efese aangekom. Hy is gebore in die stad Aleksandrië en hy was iemand wat baie goed kon praat. Hy het die Ou Testament baie goed geken.

25. Apollos het by mense baie geleer hoe die Here wil hê ’n mens moet lewe. Hy was baie opgewonde en hy het aanmekaar daaroor gepraat. Hy het vir die mense die dinge oor Jesus reg geleer, maar hy het net geweet dat Johannes die Doper mense gedoop het. Hy het nie geweet dat die apostels ook mense gedoop het in die Naam van Jesus nie.

Handelinge 18