Esegiël 18:19-23 Bybel vir Almal (ABA)

19. En julle vra hoekom Ek nie ’n seun straf oor die sonde van sy pa nie? Die seun het reg gedoen en reg gelewe, hy was gehoorsaam aan alles wat Ek gesê het en hy het dit gedoen. Hy sal aanhou lewe, dit is seker.

20. Die persoon wat sonde doen, is die persoon wat sal sterf. Ek sal nie ’n seun straf oor die sonde van sy pa nie en Ek sal nie ’n pa straf oor die sonde van sy seun nie. Dit sal goed gaan met die mens wat reg doen en dit sal sleg gaan met die mens wat verkeerd doen.

21. “En wanneer iemand wat altyd verkeerd gedoen het, ophou om al die sondes te doen wat hy gedoen het en hy lewe dan soos Ek sê en hy doen reg, dan sal hy aanhou lewe, dit is seker, hy sal nie sterf nie.

22. Ek sal nie daaraan dink dat hy opstandig was nie. Hy sal aanhou lewe omdat hy reg gedoen het.”

23. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Ek wil glad nie hê dat die persoon wat verkeerd doen, moet sterf nie, Ek wil hê hy moet sy lewe verander sodat hy kan aanhou lewe.

Esegiël 18