19. Manne van die Manasse-stam het na Dawid toe gekom toe hy saam met die Filistyne oorlog gaan maak het teen Saul. Maar Dawid het toe nie die Filistyne gehelp nie, want die leiers van die Filistyne het daaroor gepraat en hulle het gesê: “Sy koning sal weer baie van hom hou as hy die koppe van ons manne vir die koning bring.”
20. Die manne van die Manasse-stam wat na Dawid toe gekom het toe hy na Siklag gegaan het, was Adnag, Josabad, Jediael, Mikael, Josabad, Elihu en Silletai. Elkeen van hulle was ’n leier van 1 000 manne in die Manasse-stam.
21. Hulle het vir Dawid gehelp en hulle het leiers van sy manne geword, want hulle was almal belangrike manne en offisiere.
22. Daar het elke dag manne na Dawid toe gekom om hom te help. Hy het later ’n groot leër gehad, ’n baie groot leër.
23. Die manne wat in Hebron na Dawid toe gekom het om hom te help om koning te word in Saul se plek, het dit gedoen omdat die Here dit wou hê. Hulle was gereed om oorlog te maak. Hier is die getalle van die manne:
24. Van die Juda-stam was daar 6 800 manne. Hulle het skilde en spiese gehad en hulle was gereed om oorlog te maak.
25. Van die Simeon-stam was daar 7 100 manne wat goed oorlog kon maak.
26. Van die Levi-stam was daar 4 600 manne.
27. Jojada, die hoof van die nageslag van Aäron, het ook gekom. Saam met hom was daar 3 700 manne.
28. Sadok was toe nog jonk, maar hy was ’n belangrike man. Daar was 22 leiers van sy familie.
29. Die Benjamin-stam was familie van Saul en die meeste van hulle het aangehou om die koningshuis van Saul te help. Daar het 3 000 van hulle manne na Dawid toe gekom.
30. Van die Efraim-stam het 20 800 manne gekom. Hulle was belangrike manne in hulle families en hulle kon goed oorlog maak.
31. Van die een halwe Manasse-stam het 18 000 manne gekom. Hulle stam het hierdie manne gestuur om na Dawid toe te kom en hom koning te maak.
32. Van die Issaskar-stam het 200 leiers gekom. Hulle het geweet wanneer dit die regte tyd is om iets te doen, hulle het geweet wat die Israeliete moet doen. Hulle was die leiers van die manne van hulle stam.