Eksodus 36:4-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

4. Toe het al die vakmanne wat die werk aan die heiligdom moes doen, elkeen van sy afdeling van die werk af,

5. vir Moses kom sê: “Die volk bring meer as wat nodig is om die werk te doen wat die Here beveel het.”

6. Toe het Moses in die kamp rond laat weet dat die mense nie meer iets as offergawe vir die heiligdom moet gee nie, en eers toe het die volk opgehou bring.

7. Daar was meer as genoeg om al die werk te doen, daar was selfs nog oor.

8. Die begaafde vakmanne het met die werk aan die tabernakel begin. Hulle het tien stukke materiaal van goed geweefde linne en blou, pers en bloedrooi wolstof gebruik en gerubs daarop uitgeborduur.

9. Die lengte van elke stuk materiaal was veertien meter en die breedte twee meter, almal was presies ewe groot.

10. Die stukke materiaal is vyf-vyf aanmekaar gewerk.

11. Daar is toe blou lissies vasgewerk aan die een kant van die een strook materiaal en so ook aan die een kant van die ander strook,

Eksodus 36