Deuteronomium 28:13-14-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

2. “As jy luister na die Here jou God, sal al hierdie seëninge oor jou kom en jou lewe verryk.

3. “Jy sal geseën wees in die stad, jy sal geseën wees in die oop veld.

4. “Jou nageslag sal geseën wees, en die opbrengs van jou lande en die aanteel van jou diere, jou kalweroes en jou lammeroes.

5. “Jou oesmandjie en jou knieskottel sal geseën wees.

6. “Jy sal geseën wees waar jy ook gaan.

7. “Die Here sal jou vyande wat jou aanval, vir jou laat vlug. Hulle sal uit een rigting teen jou opruk, maar in talle rigtings voor jou uit vlug.

8. “Die Here sal die seën beveel om oor jou te kom, oor jou graanskure en oor alles wat jy aanpak. Die Here jou God sal jou seën in die land wat Hy aan jou gee.

9. “As jy die gebooie van die Here jou God gehoorsaam en sy wil doen, sal Hy jou in stand hou as sy heilige volk soos Hy met 'n eed aan jou beloof het.

13-14. “As jy luister na die Here jou God se gebooie wat ek jou vandag gee, as jy hulle gehoorsaam en daarvolgens lewe en nie ander gode aanhang en dien en so afwyk van alles wat ek jou vandag beveel nie, sal die Here jou God jou die kop maak, nie die stert nie, en sal jy altyd bo wees, nie onder nie.

15. “As jy nie luister na die Here jou God nie en jy gehoorsaam nie al sy gebooie en voorskrifte wat ek jou vandag gee, en jy lewe nie daarvolgens nie, sal al hierdie strawwe oor jou kom en jou tref:

16. “Daar sal 'n vloek op jou rus in die stad, daar sal 'n vloek op jou rus in die oop veld.

17. “Daar sal 'n vloek rus op jou oesmandjie en op jou knieskottel.

18. “Daar sal 'n vloek rus op jou nageslag en op die opbrengs van jou lande, op jou kalweroes en jou lammeroes.

19. “Daar sal 'n vloek op jou rus waar jy ook gaan.

20. “Die Here sal die vloek oor jou stuur, verwarring en terugslae in alles wat jy aanpak en doen, totdat Hy jou uitgeroei het en jou skielike ondergang bewerk het oor al die verkeerde dinge wat jy gedoen het deurdat jy Hom verlaat het.

21. “Die Here sal peste en plae aan jou laat kleef totdat Hy jou uitgeroei het uit die land waarheen jy op pad is om dit in besit te neem.

22. “Die Here sal jou tref met tering, inflammasie en koorssiekte, met hitte, met oorlog en met brandkoring en roes. Dit sal by jou bly totdat jy uitgewis is.

Deuteronomium 28