2 Konings 15:19-26 Afrikaans 1983 (AFR83)

19. Toe koning Pul van Assirië teen die land opgeruk het, het Menahem vier en dertig ton silwer betaal. Pul sou hom dan ondersteun in die handhawing van sy koningskap.

20. Menahem het elke burger in Israel 'n heffing opgelê om die koning van Assirië te kan betaal: vyf honderd en sewentig gram silwer per man. Toe het die koning van Assirië sy leër uit die land onttrek en teruggegaan.

21. Die ander verhale oor Menahem en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.

22. Menahem is oorlede en sy seun Pekahia het hom as koning opgevolg.

23. In die vyftigste regeringsjaar van koning Asarja van Juda het Pekahia seun van Menahem koning oor Israel geword en hy het twee jaar in Samaria geregeer.

24. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here; hy het nie afgesien van die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het nie.

25. Sy adjudant, Peka seun van Remalja, het teen hom saamgesweer en hom aangeval in die toring van die paleis in Samaria. Met die hulp van vyftig man uit Gilead het Peka vir Argob, Arje en die koning doodgemaak en hom as koning opgevolg.

26. Die ander verhale oor Pekahia en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.

2 Konings 15