1 Samuel 4:9-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Nou sal julle moet dapper wees! Gedra julle soos manne, Filistyne, sodat julle nie miskien slawe word van die Hebreërs soos hulle júlle slawe was nie. Gedra julle soos manne en veg!”

10. Hierna het die Filistyne gaan veg, en die Israeliete is weer verslaan. Hulle het gevlug, elkeen na sy woonplek toe. Daar was 'n baie groot slagting, dertig duisend voetsoldate van Israel het geval.

11. Die ark van God is ook gevat, en Eli se twee seuns Hofni en Pinehas het omgekom.

12. 'n Benjaminiet het van die slagveld af gehardloop en dieselfde dag nog in Silo aangekom. Sy klere was geskeur, en daar was grond op sy kop.

13. Terwyl hy aankom, het Eli juis langs die pad op sy stoel gesit en wag, want hy was bekommerd oor die ark van God. Die man het gekom en die tyding aan die dorp bekend gemaak. Die hele dorp het begin kerm en kla.

14. Eli het die gekerm gehoor en gesê: “Wat skreeu die mense so?”Die man het gou vir Eli kom vertel.

15. Eli was toe ag en negentig jaar. Sy oë was star, en hy kon nie meer goed sien nie.

16. Die man het vir Eli gesê: “Ek kom van die slagveld af. Ja, ek het vandag van die slagveld af gevlug.”En Eli vra: “My seun, wat het gebeur?”

1 Samuel 4