1. EN Korag, die seun van Jishar, die seun van Kehat, die seun van Levi, saam met Datan en Abíram, seuns van Elíab, en On, die seun van Pelet, seuns van Ruben, het manne geneem,
2. en hulle het opgestaan voor die oë van Moses saam met tweehonderd-en-vyftig man uit die kinders van Israel, owerstes van die vergadering, manne wat opgeroep was vir die volksvergadering, manne van naam.
3. En hulle het bymekaargekom teen Moses en Aäron en aan hulle gesê: Dit is nou genoeg; want die hele vergadering, hulle almal, is heilig; en die Here is in hulle midde! Waarom verhef julle jul dan oor die vergadering van die Here?
4. Toe Moses dit hoor, het hy op sy aangesig geval;
5. en hy het met Korag en sy hele bende gespreek en gesê: Môre vroeg, dan sal die Here bekend maak wie Hom toebehoort en wie die heilige is, en wie Hy na Hom laat nader kom: wie Hy uitkies, sal Hy na Hom laat nader kom.
6. Doen dit: Neem vir julle vuurpanne, Korag en sy hele bende,
7. en gooi daar môre vuur in en lê daar reukwerk op voor die aangesig van die Here; dan sal die man wat die Here uitkies, die heilige wees. Dit is nou genoeg, kinders van Levi!
8. Verder het Moses vir Korag gesê: Luister tog, kinders van Levi!
9. Is dit julle nie genoeg dat die God van Israel julle uit die vergadering van Israel afgeskei het om julle na Hom te laat nader kom, om die dienswerk van die Here se tabernakel te verrig en te staan voor die vergadering om hulle te dien nie,
10. en Hy jou laat nader kom het en al jou broers, die kinders van Levi, saam met jou — dat julle nou ook die priesteramp begeer?
11. Daarom, jy en jou hele bende is mense wat teen die Here vergader; want Aäron, wat is hy, dat julle teen hom murmureer?
12. En Moses het gestuur om Datan en Abíram, die seuns van Elíab, te laat roep; maar hulle het gesê: Ons sal nie opkom nie.
13. Is dit nie genoeg dat jy ons uit ’n land wat oorloop van melk en heuning laat optrek het om ons in die woestyn om te bring, dat jy ook gedurig oor ons die baas wil speel nie?
14. Ook het jy ons nie gebring in ’n land wat oorloop van melk en heuning en aan ons geen lande en wingerde as erfdeel gegee nie. Wil jy die oë van hierdie manne uitgrawe? Ons sal nie opkom nie.
15. Toe het Moses baie kwaad geword, en hy het aan die Here gesê: Sien hulle offer nie aan nie. Ek het nie een esel van hulle geneem en nie een van hulle kwaad aangedoen nie.