29. En die dienaars van Absalom het met Amnon gedoen soos Absalom hulle beveel het. Toe het al die seuns van die koning opgestaan, en hulle het elkeen op sy muil geklim en gevlug.
30. Terwyl hulle op pad was, kom die gerug by Dawid: Absalom het al die seuns van die koning doodgeslaan en nie een van hulle het oorgebly nie.
31. Toe staan die koning op en skeur sy klere en gaan lê op die grond, terwyl al sy dienaars met geskeurde klere daarby staan.
32. Maar Jónadab, die seun van Dawid se broer Símea, het geantwoord en gesê: My heer moet nie dink dat hulle al die jongmanne, die seuns van die koning, gedood het nie, maar Amnon alleen is dood, want dit was aan die gesig van Absalom te sien van die dag af dat hy sy suster Tamar onteer het.
33. My heer die koning moet dit dan nou nie ter harte neem en dink al die seuns van die koning is dood nie. Maar Amnon alleen is dood.
34. En Absalom het gevlug. Toe die jongman wat op wag staan, sy oë opslaan, sien hy dat daar ’n groot skare kom van ’n pad agter hom, aan die kant van die berg.
35. En Jónadab sê aan die koning: Kyk, daar kom die seuns van die koning; volgens die woord van u dienaar, so het dit gebeur.