1 Timótheüs 5:4-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. Maar as ’n weduwee kinders of kleinkinders het, laat hulle eers leer om teenoor hulle eie huis eerbied te betoon en vergelding te doen aan hulle ouers; want dit is goed en aangenaam voor God.

5. En sy wat waarlik weduwee is en alleen gelaat is, hoop op God en bly in smekinge en gebede nag en dag.

6. Maar sy wat losbandig is, is lewendig dood.

7. Beveel ook hierdie dinge, sodat hulle onberispelik kan wees.

8. Maar iemand wat vir sy eie mense, en veral sy huisgenote, nie sorg nie, het die geloof verloën en is slegter as ’n ongelowige.

9. Laat ’n weduwee gekies word, nie minder as sestig jaar oud nie, wat die vrou van een man gewees het

10. en getuienis het van goeie werke, as sy kinders grootgemaak het, gasvry gewees het, die voete van die heiliges gewas het, verdruktes gehelp en elke goeie werk nagestreef het.

11. Maar jy moet die jong weduwees afwys; want wanneer hulle tot oneer van Christus wellustig word, wil hulle trou

12. en kom onder ’n oordeel, omdat hulle hul eerste geloof verwerp het.

13. En tegelykertyd leer hulle ook om ledig by die huise rond te gaan; en nie alleen is hulle ledig nie, maar ook praatsiek en bemoeisiek, want hulle praat wat nie behoorlik is nie.

14. Ek wil dan hê dat die jong weduwees moet trou, kinders baar, hulle huise regeer en die teëparty geen aanleiding gee om kwaad te spreek nie.

15. Want sommige het al afgewyk agter die Satan aan.

16. As ’n gelowige man of ’n gelowige vrou weduwees by hulle het, moet dié aan hulle hulp verleen; en laat die gemeente nie beswaar word nie, sodat dit die wat waarlik weduwees is, kan help.

17. LAAT die ouderlinge wat goed regeer, dubbele eer waardig geag word, veral die wat arbei in woord en leer.

18. Want die Skrif sê: Jy mag ’n os wat graan dors, nie muilband nie; en: Die arbeider is sy loon werd.

1 Timótheüs 5