Romeine 5:7-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. ’n Persoon sal kwalik bereid wees om vir ’n regverdige mens te sterf. Miskien sal iemand nog kans sien om vir ’n besonder goeie mens te sterf.

8. God laat blyk sý liefde vir ons egter daarin dat Christus vir ons kom sterf het ten spyte daarvan dat ons nog sondaars was.

9. Ons is nou vrygespreek deur Jesus se dood. Hoeveel te meer sal Hy ons nie, deur Jesus, verlos van die toekomstige oordeel nie!

10. Want as God ons, terwyl ons nog sy vyande was, deur die dood van sy Seun tot sy vriende gemaak het, hoeveel te meer sal Hy ons nie noudat ons sy vriende is, deur Hom, die lewende Jesus, van die oordeel red nie!

11. Bo alles kan ons nou ook jubel in God omdat Jesus Christus ons Here ons bevoorreg het om nou God se vriende te wees.

12. Toe Adam gesondig het, het sonde in die wêreld ingekom en deur Adam se sonde ook die dood. En so het die dood tot alle mense deurgedring, want almal het gesondig.

13. Reeds voordat die wet gegee is, het mense gesondig, alhoewel sonde nog nie so spesifiek toegereken kan word as daar geen wet is nie.

14. Die mense tussen Adam en Moses het in elk geval almal gesterf, al was hulle nie soos Adam ongehoorsaam aan ’n uitdruklike opdrag van God nie. Adam was in ’n sekere sin ’n heenwysing na Hom wat sou kom.

15. Tog is daar ’n ernstige verskil tussen ons sonde en God se genadegeskenk van vergifnis. Want die oortreding van hierdie een mens, Adam, het die dood van baie veroorsaak, maar die ander mens, Jesus Christus, het soveel meer gedoen: die genade van God, ja, sy genadegeskenk wat Hy deur Jesus Christus aan baie mense gee, oortref alles!

Romeine 5