Nehemia 8:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Die mense het toe almal op die plein voor die Waterpoort bymekaargekom. Hulle het die skrywer Esra gevra om die wetboek van Moses waarin die bevele van die Here vir Israel was, te bring.

2. Die priester Esra het die wetboek op 8 Oktober na die byeenkoms toe gebring. Daar was mans, vroue en kinders wat reeds kon verstaan, teenwoordig.

3. Op die plein voor die Waterpoort het hy daaruit voorgelees vir almal wat kon verstaan. Hy het van vroeg die môre af tot die middag toe daaruit vir hulle voorgelees. Almal het baie aandagtig na die wetboek geluister.

4. Esra het op ’n houtverhoog wat vir die geleentheid gemaak is, gestaan. Regs langs hom het Mattitja, Sema, Anaja, Urija, Gilkija en Maäseja gestaan. Links van hom was Pedaja, Misael, Malija, Gasum, Gasbaddana, Sagaria en Mesullam.

5. Al die mense kon Esra op die verhoog sien staan. Toe hulle sien dat hy die boek oopmaak, het almal opgestaan.

6. Esra het die Here, die groot God geprys. Die mense het hierop “Amen! Amen!” gesê terwyl hulle hulle hande na die hemel toe uitstrek. Almal het voor die Here gekniel en met hulle gesigte laag teen die grond neergebuig.

7. Die Leviete Jesua, Bani, Serebja, Jamin, Akkub, Sabbetai, Hodija, Maäseja, Kelita, Asarja, Josabad, Ganan en Pelaja het die gebooie uitgelê aan die mense wat daar gestaan het.

8. Hulle het uit God se wetboek voorgelees en mooi verduidelik wat dit beteken. Hulle het seker gemaak die mense verstaan wat gelees is.

Nehemia 8