18. “Verstaan julle dit nie? Begryp julle nie dat wat ’n mens eet jou nie onrein kan maak nie?
19. Kos gaan nie na jou hart nie, maar na jou maag en gaan weer uit jou liggaam uit.” (Daarmee het Jesus gewys dat ’n mens enige soort kos mag eet.)
20. En toe voeg Hy by: “Wat uit ’n mens uitgaan, dít is wat jou onrein maak.
21. Want uit jou binneste, uit jou hart, kom slegte gedagtes, soos onsedelikheid, diefstal, moord,
22. huweliksontrou, gierigheid, slegte bedoelings, skelmstreke, ongedissiplineerdheid, jaloesie, vloekery, hoogmoed en dwaasheid.
23. Al hierdie slegte dinge kom van binne af. Dít is wat jou voor God onrein maak.”
24. Jesus het van Galilea noordwaarts vertrek na die omgewing van Tirus. Hy het Hom in ’n huis teruggetrek en wou dit stil hou, maar dit was onmoontlik.
25. Sommer gou het ’n vrou in wie se dogtertjie ’n onrein gees was, van Hom gehoor en voor sy voete kom neerval.
26. Sy was ’n Griekse vrou wat van Siro-Fenisië afkomstig was. Sy het Jesus aanhou smeek om die duiwel uit haar dogter te dryf.
27. Jesus sê toe vir haar: “Ek moet eers my eie mense, die Jode, help. Dis glad nie mooi om die kinders se kos weg te vat en dit vir die huishondjies te gooi nie.”
28. Waarop sy toe antwoord: “Here, die hondjies eet tog darem onder die tafel van die kinders se krummels.”
29. “Uitstekend!” het Jesus vir haar gesê. “Omdat jy My so goed geantwoord het, kan jy maar huis toe gaan. Die duiwel het jou dogter verlaat.”
30. Tuisgekom kry sy toe haar kind rustig op die bed lê, heeltemal gesond.
31. Op pad terug van die omgewing van Tirus het Jesus oor Sidon en deur die Tien Stede-gebied na die See van Galilea gegaan.
32. Hulle bring toe ’n dowe man met ’n spraakgebrek na Hom toe en soebat Hom om sy hand op die man te sit om hom gesond te maak.
33. Jesus het hom opsy geneem, heeltemal weg van al die mense af. Toe steek Hy sy vingers in die man se ore en smeer spoeg aan sy tong.
34. Terwyl Hy na die hemel toe opkyk, sug Hy swaar en beveel toe: “Gaan oop!”
35. Oombliklik kon die man hoor en normaal praat!