1. Die volgende aand, toe die Sabbat verby was, het Maria Magdalena en Maria, Jakobus se ma, en Salome aromatiese olie gaan koop om Jesus se liggaam daarmee te behandel.
2. Baie vroeg Sondagmôre, net toe die son opkom, kom hulle by die graf aan.
3. Op pad soontoe het hulle nog onder mekaar gewonder wie die klip voor die ingang van die graf vir hulle sou wegrol.
4. Maar toe hulle daar aankom en opkyk, sien hulle dat die klip – dit was ’n baie groot een – reeds weggerol was.
5. Hulle gaan toe in die graf in en daar op die regterkant sien hulle ’n jong man in wit klere sit. Hulle was heeltemal verskrik.