13. Die leiers het ’n aantal Fariseërs en ondersteuners van Herodes gestuur om Jesus in ’n strik te laat trap.
14. Hulle kom vra Hom toe: “Leermeester, ons weet hoe absoluut eerlik u is. U ontsien niemand nie, want u word nie beïnvloed deur mense se belangrikheid nie. Inteendeel, u leer mense wat God van ons verwag sonder om doekies om te draai. Sê nou vir ons: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal of nie? Moet ons betaal of nie?”
15. Jesus het egter deur hulle onderduimsheid gesien en sê vir hulle: “Hoekom probeer julle My uitvang? Bring vir My ’n Romeinse muntstuk dat Ek daarna kan kyk.”
16. Toe hulle dit vir Hom bring, vra Hy vir hulle: “Wie se kop en titel is hierop afgedruk?” Hulle het Jesus geantwoord: “Die keiser s’n.”
17. “Wel,” het Hy gesê, “gee dan aan die keiser wat hom toekom. Maar gee aan God alles wat Hóm toekom.” Hulle was stomverbaas oor Hom.