31. “Hoe sal Ek hierdie geslag mense beskryf?” het Jesus gevra. “Waarmee sal Ek hulle vergelyk?
32. Hulle is soos ’n groep kinders wat ’n spel op die dorpsplein speel. Hulle kla teenoor hulle vriende: ‘Ons het vir julle ’n bruilofslied gespeel, maar julle wou nie dans nie. Ons het ’n begrafnislied gesing,maar julle het geweier om te huil.’
33. “Want Johannes die Doper het soos ’n askeet gelewe – nie wyn gedrink nie en dikwels gevas – en julle sê: ‘Hy is van die duiwel besete.’
34. “En Ek, die Seun van die Mens, hou van gesellige maaltye – Ek eet en drink – en julle sê: ‘Hy is ’n vraat en ’n dronkaard, en ’n vriend van die slegste soort sondaars!’
35. Maar die wysheid kom tot sy reg in die lewe van hulle wat dit navolg.”
36. Een van die Fariseërs het Jesus na sy huis genooi vir ’n maaltyd, en Jesus het dit aanvaar en aangelê om te eet.
37. En kyk, ’n sekere vrou van losse sedes het gehoor dat Hy daar is en het ’n albaste fles met duur aromatiese olie gebring.
38. Sy het agter Jesus gekniel, by sy voete, en gehuil. Haar trane het op sy voete geval en sy het dit met haar hare afgevee. Sy het sy voete bly soen en die aromatiese olie daaraan gesmeer.