10. Daarop het Hy aan hulle gesê: “Nasie sal teen nasie optrek en koninkryk teen koninkryk.
11. Daar sal hewige aardbewings wees, en van plek tot plek sal daar hongersnood en epidemies wees. Daar sal vreesaanjaende dinge voorkom en magtige tekens van die hemel af.
12. “Nog voordat al hierdie dinge oor julle kom, sal hulle julle arresteer en vervolg. Hulle sal julle aan die sinagoges en tronke oorlewer; hulle sal julle voor konings en goewerneurs sleep omdat julle in my Naam optree.
13. Dit sal aan julle ’n geleentheid gee om te getuig.
14. “Neem julle nou reeds voor om julle nie te bekommer oor julle verdediging nie,
15. want Ek sal aan julle die regte woorde en die wysheid gee wat al julle teenstanders nie sal kan opponeer of weerlê nie.
16. Julle sal uitgelewer word deur ouers, broers, familie en vriende, en hulle sal sommige van julle doodmaak.
17. Julle sal ook deur almal gehaat word omdat julle in my Naam optree.
18. Maar selfs nie ’n haar op julle kop sal verlore gaan nie.
19. Deur julle volharding sal julle julle lewe behou.”
20. “Wanneer julle sien dat Jerusalem deur leërs omsingel word, moet julle kennis neem dat sy vernietiging aangebreek het.
21. Dan moet die mense wat in Judea is, na die berge toe vlug, en die mense wat in die middel van die stad self is, moet dit ontruim, en die mense wat op die platteland is, moet nie Jerusalem binnegaan nie.