7. “‘En hoeveel skuld jy my werkgewer?’ het hy vir die volgende persoon gevra. ‘100 sakke koring,’ was die antwoord. ‘Hier,’ het die bestuurder gesê, ‘vat jou skuldbrief en vervang dit met een vir 80 sakke.’
8. “Die ryk man moes tog die oneerlike bestuurder prys omdat hy so uitgeslape was. En dit is waar dat die mense van hierdie wêreld onder mekaar vindingryker is as die godvresende mense.
9. Ek sê vir julle, gebruik julle wêreldse bronne tot voordeel van ander, en maak só vriende. Op dié manier sal julle vrygewigheid vir julle ’n beloning in die hemel verseker.”
10. “As julle in klein sake getrou is, sal julle ook in groot sake getrou wees. As jy selfs ’n klein bietjie oneerlik is, sal jy nie eerlik wees met groot verantwoordelikhede nie.
11. En as julle onbetroubaar is met wêreldse rykdom, wie sal julle vertrou met die werklike rykdom van die hemel?
12. En as julle nie betroubaar is met ander mense se geld nie, waarom sal julle met julle eie geld vertrou word?
13. “Niemand kan twee eienaars dien nie. Want jy sal die een haat en die ander liefhê, of die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én geld dien nie.”
14. Die Fariseërs wat baie lief was vir hulle geld het natuurlik hiermee gespot.
15. Hy sê toe vir hulle: “Julle wil graag in die openbaar goed voorkom, maar God ken julle bose harte. Wat hierdie wêreld vereer, is ’n gruwel in die oë van God.
16. “Totdat Johannes die Doper begin preek het, was die wette van Moses en die profete julle riglyn. Maar van toe af word die Goeie Nuus van God se koningsheerskappy verkondig en gretige skares trek op.