Lukas 15:7-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Net so sal die hemel blyer wees oor een sondaar wat tot inkeer kom as oor 99 ander wat regverdig is en nie nodig het om tot inkeer te kom nie!”

8. “Of veronderstel ’n vrou het tien waardevolle silwermuntstukke en verloor een daarvan. Sal sy nie ’n lamp opsteek en die huis van hoek tot kant uitvee totdat sy dit kry nie?

9. En wanneer sy dit kry, roep sy haar vriende en bure om saam bly te wees omdat sy haar muntstuk gevind het.

10. Net so is daar blydskap onder God se engele as net een sondaar tot inkeer kom.”

11. Om dié punt verder te verklaar, het Jesus vir hulle die volgende verhaal vertel: “’n Man het twee seuns gehad.

12. Die jongste het vir sy pa gesê: ‘Ek wil my deel van die boedel nou hê, eerder as om te wag tot Pa doodgaan.’ Die pa het toe ingestem om sy goed tussen sy twee seuns te verdeel.

13. “’n Paar dae later het hierdie jonger seun al sy besittings in geld omskep, na ’n ver land gereis, en daar al sy geld verkwis met ’n uitspattige lewe.

Lukas 15