31. “Die koningin van Skeba sal in die oordeelsdag opstaan en hierdie geslag veroordeel, want sy het van ’n ver land gekom om na die wysheid van Salomo te luister. En nou is Iemand groter as Salomo hier – en hierdie geslag weier om na Hom te luister.
32. Die mense van Nineve sal ook in die oordeelsdag opstaan en hierdie geslag veroordeel, want hulle het tot inkeer gekom deur die prediking van Jona. En nou is Iemand groter as Jona hier – en hierdie geslag weier om tot inkeer te kom.”
33. “Niemand steek ’n lamp op en steek dit dan weg of sit dit onder ’n emmer nie. Inteendeel, dit word op ’n staander geplaas om lig te laat skyn vir almal wat die kamer binnekom.
34. Jou oog is die lamp vir jou liggaam. ’n Skoon oog laat lig in jou liggaam inskyn. Maar ’n vuil oog sluit die lig uit en dompel jou in duisternis.
35. Maak seker dat die lig wat jy dink jy het, nie dalk duisternis is nie.
36. As jou hele liggaam met lig gevul is, sonder donker hoekies, sal jou hele lewe stralend wees asof ’n helder lig op jou skyn.”
37. Toe Jesus klaar gepraat het, het een van die Fariseërs Hom na sy huis genooi vir ’n ete. Hy het dus ingegaan en sy plek aan tafel ingeneem.
38. Sy gasheer was verbaas om te sien dat Hy plaasneem sonder om eers die seremoniële reiniging volgens Joodse gebruik na te kom.