23. Moses het die ram geslag en van die bloed geneem en dit aan die oorlel van Aäron se regteroor, sy regterduim en regtergroottoon gesmeer.
24. Hy het toe ook Aäron se seuns laat naderkom en van die bloed ook aan hulle regteroorlelle, regterduime en regtergroottone gesmeer. Die res van die bloed het hy teen die kante van die altaar gesprinkel.
25. Toe het hy die vet geneem, die vet van die stert, die vet aan die binnegoed, die punt van die lewer, die twee niere met hulle vet en ook die regterboud.
26. Hy het toe ook ’n ongesuurde brood, ’n roosterkoek van ongesuurde brood wat in olyfolie gedoop is en ’n dun broodjie wat met olyfolie gesmeer was bo-op die vet en die regterboud gesit. Al die brood is geneem uit die mandjie met ongesuurde brood wat in die teenwoordigheid van die Here gestaan het.
27. Hy het dit alles vir Aäron en sy seuns gegee en hulle aangesê om dit vir die Here aan te bied deur dit na Hom uit te steek.