Levitikus 26:4-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. sal Ek dit laat reën op die regte tyd. Die land sal dan sy opbrengs lewer en die bome sal vrugte dra.

5. Julle sal graan oes totdat dit tyd is vir die druiwe-oes. Julle druiwe-oes sal weer duur totdat dit tyd is om graan te plant. Julle sal genoeg hê om te eet en in veiligheid in die land woon.

6. “Ek sal vir julle vrede gee in die land en julle sal gaan slaap sonder om bang te wees. Ek sal die wilde diere uit julle land wegneem en julle van julle vyande bewaar.

7. Om die waarheid te sê, julle sal julle vyande agtervolg en hulle met julle swaarde vernietig.

8. Net vyf van julle sal 100 agtervolg en 100 van julle sal 10 000 agtervolg. Al julle vyande sal onder julle wapens tot ’n val kom.

9. “Ek sal julle my guns bewys, Ek sal julle baie laat word en Ek sal my verbond met julle nakom.

10. Julle sal so ’n surplus oesopbrengste hê dat julle van die vorige jaar se oes sal moet ontslae raak om plek te maak vir die nuwe oes.

11. Ek sal by julle woon en Ek sal My nie vir julle skaam nie.

12. Ek sal by julle wees, Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees.

13. “Ek, die Here, is julle God wat julle uit Egipte gebring het sodat julle nie langer meer slawe hoef te wees nie. Ek het die juk van slawerny van julle nekke afgehaal sodat julle vry kan wees en kop omhoog kan loop.”

14. “As julle egter nie na My luister of my gebooie gehoorsaam nie,

15. en as julle my verbond verbreek deur my reëls te verwerp en my regulasies te minag,

16. sal Ek die volgende met julle laat gebeur: Ek sal paniek onder julle saai. Julle sal aan siektes en koors ly, siektes wat julle blind sal maak en julle lewe laat wegkwyn. Julle sal tevergeefs graan plant, want julle vyande sal dit opeet.

17. Ek sal my rug vir julle draai en al julle vyande sal julle verslaan. Hulle sal oor julle heers en julle sal weghardloop al is daar niemand wat julle agtervolg nie!

18. “As julle ten spyte van al hierdie dinge nog steeds ongehoorsaam bly, sal Ek julle nog sewevoudig vir julle sonde straf.

19. Ek sal julle hardkoppige trotsheid breek deur die reën weg te hou: die lug bokant julle sal soos yster wees en die grond onder julle soos brons.

20. Al julle werk sal verniet wees, want daar sal geen oes op die lande of vrugte aan die bome wees nie.

21. “As julle nog steeds vyandig teenoor My bly en weier om gehoorsaam te wees, sal Ek julle tref met nog sewe rampe.

22. Ek sal wilde diere op julle loslaat wat julle kinders sal vang en julle beestroppe sal vernietig. Julle getalle sal so afneem dat julle paaie verlate is.

23. “As julle nog nie ’n les geleer het uit hierdie dinge nie, en julle vyandigheid teen my voortsit,

Levitikus 26