Levitikus 23:26-37 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

26. Toe het die Here vir Moses gesê:

27. “Onthou om die Dag van Versoening te vier op die negende dag ná die Fees van die Trompette. Op dié dag moet julle julleself verootmoedig, ’n heilige byeenkoms hou en vuuroffers vir die Here bring.

28. Julle mag die hele dag lank nie werk nie, want dit is die Dag van Versoening wanneer daar vir julle voor die Here julle God versoening gedoen word.

29. Enige persoon wat homself nie op die dag verootmoedig nie, sal uit die gemeenskap verwyder word.

30. Ek sal ook enige persoon wat op dié dag werk, om die lewe bring.

31. Julle mag hoegenaamd geen werk doen nie. Dit is ’n permanente reël en moet nagekom word waar julle ook al woon.

32. Dit sal ’n Sabbat van rus vir julle wees, ’n dag waarop julle julleself moet verneder. Die tyd van rus en vas sal die aand voor die Dag van Versoening begin en dit sal duur tot die aand van daardie dag.”

33. Die Here het vir Moses gesê:

34. “Die Israeliete moet op die vyfde dag ná die Dag van Versoening begin met die Huttefees. Hierdie fees vir die Here duur sewe dae.

35. Dit begin met ’n heilige byeenkoms en al julle werk moet tot stilstand kom.

36. Op elk van die sewe feesdae moet julle vuuroffers vir die Here bring. Op die agtste dag moet julle weer bymekaarkom vir ’n heilige byeenkoms en nog ’n vuuroffer vir die Here bring. Dit moet ’n plegtige byeenkoms wees en geen werk mag op dié dag gedoen word nie.

37. “Dit is al die Here se jaarlikse feeste, die feeste met heilige byeenkomste, en bring al die verskillende vuuroffers vir die Here: brandoffers, graanoffers, offermaaltye, drankoffers, elkeen op die gepaste dag.

Levitikus 23