7. Bly in Christus geanker en bou op Hom, standvastig in die geloof soos julle geleer is, en loop oor van dankbaarheid.
8. Wees op julle hoede en laat niemand julle op sleeptou neem met ’n leë, misleidende filosofie wat wel rekening hou met menslike tradisie en met wêreldse magte, maar nie met Christus nie.
9. Die volheid van God is mos liggaamlik in Christus teenwoordig.
10. En omdat julle één is met Christus deel julle in sy volheid – Hy wat die hoof is van elke heerskappy en gesag.
11. Omdat julle één is met Christus is julle ook besny, nie met ’n besnydenis deur mense nie, maar met die besnydenis van Christus. Hierdie besnydenis bestaan uit die wegneem van julle sondige geaardheid.
12. Toe julle gedoop is, is julle saam met Christus begrawe. Omdat julle één is met Hom is julle ook saam met Hom opgewek. Julle geloof in die krag van God het dit moontlik gemaak – hierdie selfde krag wat Jesus uit die dood opgewek het!
13. Julle was eintlik dood omdat julle gesondig het en omdat julle sondige geaardheid nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewendig gemaak. Hy het ons al ons sondes vergewe.
14. Hy het die dokument met voorskrifte wat as klagstaat teen ons gedien het, uitgevee en dit vir goed weggevat deur dit aan die kruis vas te spyker.
15. So het Hy die regeerders en gesagvoerders ontwapen. Hy het hulle in die openbaar bespotlik gemaak deur aan die kruis oor hulle te triomfeer.
16. Moet dus nie toelaat dat enigiemand julle veroordeel oor wat julle eet of drink, of oor die vier van sekere feesdae of die Nuwemaanfees of Sabbatte nie.
17. Al hierdie dinge is net ’n skaduwee van wat sou kom. Die ware werklikheid is Christus!
18. Laat niemand wat aandring op selfvernedering en engelverering – en dit met ’n beroep op visioene! – julle op sleeptou neem nie. Verniet dink hierdie mense, tipies van hulle sondige geaardheid, baie van hulleself.
19. Hulle is nie aan die hoof verbind uit wie die hele liggaam groei nie. Vanuit die hoof groei die hele liggaam, ondersteun en saamgebind deur gewrigte en spiere. Gód laat dit groei!
20. Aangesien julle, deur saam met Christus te sterf, die bose wêreldse magte afgesterf het, waarom leef julle nog volgens wêreldse voorskrifte soos:
21. “moenie vat nie”, “moenie dit eet nie” en “moenie aanraak nie”?
22. Dit is alles dinge wat verbruik word en vergaan – soos dit gaan met mensgemaakte voorskrifte en leringe.