Josua 8:1-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Die Here het toe vir Josua gesê: “Moenie bang wees nie. Moenie moedeloos word nie. Vat al jou manskappe en gaan veg teen Ai. Ek gee die koning van Ai, sy volk en sy stad en sy land in jou mag.

2. Maak met Ai en sy koning net soos jy met Jerigo en sy koning gemaak het. Hierdie keer mag julle egter die buit en die vee vir julleself vat. Stel ’n hinderlaag aan die agterkant van die stad op.”

3. Josua en al sy manskappe het toe teen Ai opgetrek. Josua het 30 000 dapper manskappe uitgekies en hulle gedurende die nag uitgestuur.

4. Hy het hulle beveel: “Gaan kruip aan die agterkant van die stad weg. Moenie te ver van die stad af gaan nie. Hou julle gereed.

5. Ek en almal saam met my sal die stad van voor af nader. Wanneer hulle soos die vorige keer uittrek om teen ons te veg, sal ons op die vlug slaan.

6. Hulle sal uit die stad uit kom om ons agterna te sit. Hulle sal dink ons vlug weer vir hulle soos die vorige keer. Ons sal voor hulle uit padgee.

7. Julle moet dan uit julle skuilplek opstaan en die stad inval. Die Here julle God sal dit in julle mag gee.

8. “Wanneer julle beheer van die stad oorgeneem het, moet julle dit aan die brand steek. Maak soos die Here gesê het. Julle het nou my bevele.”

9. Josua het hulle weggestuur. Hulle het die hinderlaag gaan opstel en hulle ingegrawe tussen Bet-El en die westekant van Ai. Josua self het daardie nag in die kamp geslaap.

10. Josua het die môre vroeg opgestaan en sy manskappe opgeroep. Hy en die aanvoerders van Israel het die manskappe teen Ai gelei.

11. Al die manskappe het saam met hom opgetrek en nader aan die stad beweeg. Hulle het kamp opgeslaan aan die noordekant van Ai. Daar was ’n laagte tussen hulle en Ai.

12. Josua het ongeveer 5 000 man gevat en hulle in ’n hinderlaag opgestel tussen Bet-El en Ai aan die westekant van die stad.

13. Die hoofkamp was dus noord van die stad en die manskappe in die hinderlaag aan die westekant van die stad. Josua self het daardie nag in die laagte geslaap.

14. Toe die koning van Ai hulle sien, het hy en sy leër haastig klaargemaak en vroeg die môre uitgetrek om teen Israel oorlog te maak. Hy en sy mense is na ’n plek regoor die Jordaanvallei. Hy het egter nie geweet van die hinderlaag wat agter die stad gelê het nie.

15. “Josua en die hele Israel het omgevlieg en op die vlug geslaan in die rigting van die woestyn.

16. Almal in die stad is opgeroep om hulle te agtervolg. Hulle is agter Josua aan en is so van die stad af weggelok.

17. Daar was nie ’n man in Ai of Bet-El oor wat nie agter die Israeliete aan was nie. Hulle het egter die stad net so oop gelos toe hulle agter Israel aan is.

18. Toe sê die Here vir Josua: “Steek die spies in jou hand na Ai toe uit. Ek gee die stad in jou mag oor.” Josua het die spies in sy hand na Ai toe uitgesteek.

Josua 8