Josua 6:5-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

5. Sodra julle hoor dat die priesters ’n uitgerekte sein op die ramshorings gee, moet almal ’n harde kreet gee. Die stad se muur sal dan inmekaarstort. Die manskappe kan dan daaroor klim om in die stad in te gaan.”

6. Josua, die seun van Nun, het toe die priesters bymekaargeroep. Hy het vir hulle gesê: “Tel die ark van die verbond op. Laat sewe priesters elkeen met ’n ramshoring voor die ark van die Here uit loop.”

7. Vir die volk het hy gesê: “Trek rondom die stad. Die afdeling soldate moet voor die ark van die Here uit marsjeer.”

8. Toe Josua klaar met die volk gepraat het, het die sewe priesters met die ramshorings voor die ark van die Here begin loop. Hulle het op die ramshorings geblaas. Die ark van die verbond van die Here het agter hulle aan gekom.

9. Terwyl die priesters heeltyd op die ramshorings geblaas het, het die soldate voor hulle uit marsjeer. Die res van die volk het agter die ark gevolg.

10. Josua het die volk gewaarsku: “Moenie skreeu nie. Moenie ’n geluid maak nie. Daar moenie ’n woord uit julle mond kom voor die dag dat ek vir julle sê: ‘Skreeu!’ nie. Dan moet julle hard begin skreeu.”

11. Hy het die ark van die Here toe een maal om die stad laat gaan. Daarna is hulle terug na hulle kamp toe en het die nag in die kamp gebly.

12. Josua was die volgende môre vroeg op. Die priesters het weer die ark van die Here gedra.

Josua 6