Josua 22:5-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

5. Let baie goed daarop dat julle die gebod en die wet wat Moses, die dienaar van die Here, julle voorgehou het, moet gehoorsaam. Dit beteken dat julle die Here julle God moet liefhê, die koers moet inslaan wat Hy van julle verwag, bedag moet wees op wat Hy wil hê, daaraan vashou en met hart en siel vir Hom lewe.”

6. Josua het hulle seën toegewens en hulle weggestuur. Hulle is toe terug na hulle eie woonplek toe.

7. Moses het vir die een helfte van die Manassestam grond in Basan gegee. Josua het vir die ander helfte van die stam grond wes van die Jordaan saam met die ander stamme gegee. Toe Josua hulle nou terugstuur na hulle woonplekke toe, het hy hulle geseën

8. en vir hulle gesê: “Gaan terug en deel alles wat julle by julle vyande afgeneem het met julle families by die huis. Deel julle rykdom met hulle, julle groot troppe vee, die silwer, goud, koper en yster, en die baie klere wat julle gekry het.”

9. Die Rubeniete en Gadiete en die mans van die halwe Manassestam het die ander Israeliete in Silo in Kanaän agtergelaat. Hulle het teruggegaan na Gilead, na hulle grond wat hulle verower het, soos die Here hulle deur Moses beveel het.

10. Hulle het by Gelilot by die Jordaanrivier gekom. Dit is nog aan Kanaän se kant van die rivier. Daar het hulle langs die Jordaan ’n baie groot en mooi altaar gebou.

11. Toe die ander Israeliete hoor dat die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam die altaar by Gelilot aan hulle kant in Kanaän opgerig het,

12. het hulle by Silo saamgetrek om oorlog teen die twee en ’n half stamme te gaan maak.

13. Die Israeliete het vir Pinehas, die seun van die priester Eleasar, na die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam in Gilead gestuur.

14. Tien leiers wat elkeen hoof was van ’n Israelitiese familiegroep, en die tien ander stamme verteenwoordig het, het Pinehas vergesel.

15. Hulle het by die stamme Ruben, Gad en die halwe Manassestam in Gilead aangekom en vir hulle gesê:

16. “Die volksvergadering van die Here wil by julle hoor hoekom julle so ontrou is aan die God van Israel. Julle het julle rug op die Here gedraai toe julle die altaar gebou het! Julle is mos nou in opstand teen Hom!

17. Was ons oortreding by Peor nie groot genoeg nie? Ons het tot vandag toe nog nie die smet daarvan afgeskud nie, selfs al het die Here die gemeenskap daarvoor gestraf.

Josua 22