Johannes 11:46-54 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

46. Sommige van hulle het egter na die Fariseërs toe gegaan en by hulle gaan skinder oor wat Jesus gedoen het.

47. Die priesterhoofde en die Fariseërs het toe die Sanhedrin bymekaargeroep en gesê: “Wat gaan ons doen? Hierdie man hou aan om baie wondertekens te doen.

48. As ons hom maar net so laat begaan, sal almal in hom glo en dan sal die Romeine kom en die tempel en ons nasie tot niet maak.”

49. Een van hulle, Kajafas, wat hoofpriester was gedurende daardie jaar, het opgemerk: “Julle is baie kortsigtig.

50. Julle besef nie dat dit vir julle voordeliger is dat een mens vir die volk sterf en nie die hele volk tot niet gaan nie.”

51. Dit het hy nie uit sy eie gesê nie, maar aangesien hy gedurende daardie jaar hoofpriester was, het hy geprofeteer dat Jesus ter wille van die nasie sou sterf.

52. En nie net ter wille van die nasie alleen nie, maar ook om die kinders van God wat oor die wêreld verspreid is, tot ’n eenheid bymekaar te bring.

53. Van daardie dag af het hulle planne gesmee om Hom dood te maak.

54. Gevolglik het Jesus nie meer openlik tussen die Jode rondbeweeg nie, maar van daar af vertrek na die gebied wat na aan die woestyn geleë was en Efraim genoem is. Daar het Hy saam met sy dissipels oorgebly.

Johannes 11