11. Hierdie dinge het Jesus gesê, en daarna bygevoeg: “Ons vriend Lasarus slaap, maar Ek gaan om hom wakker te maak.”
12. Die dissipels het vir Jesus gesê: “Meneer, as hy slaap, sal hy mos gesond word.”
13. Jesus het Lasarus se dood bedoel, maar hulle het gedink Hy praat van die natuurlike slaap.
14. Toe sê Jesus reguit vir hulle: “Lasarus is dood,
15. maar ter wille van julle is Ek bly dat Ek nie daar was nie sodat julle kan glo. Laat ons dan na hom toe gaan.”
16. Tomas, wat ook Didimus genoem is, het vir die ander dissipels gesê: “Laat ons ook gaan sodat ons saam met Jesus kan sterf.”
17. Toe Jesus daar aankom, het Hy uitgevind dat Lasarus al vier dae in die graf was.
18. Betanië was naby Jerusalem, ongeveer drie kilometer daarvandaan.
19. Baie van die Jode het by Marta en Maria opgedaag om hulle meegevoel oor hulle broer te betuig.
20. Toe Marta hoor dat Jesus op pad is, het sy Hom gaan ontmoet. Maria het egter in die huis bly sit.
21. Marta het vir Jesus gesê: “Here, as U maar net hier was, sou my broer nie gesterf het nie.
22. Maar selfs nou nog weet ek dat God aan U sal gee wat U Hom ook al vra.”
23. Jesus sê vir haar: “Jou broer sal weer opstaan.”
24. Marta het dadelik reageer: “Ek weet dat hy weer sal opstaan met die opstanding op die laaste dag.”
25. Jesus het vir haar gesê: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterf hy ook.
26. Elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterf nie. Glo jy dit, Marta?”
27. Sy sê vir Hom: “Ja, Here, ek is vas oortuig dat U die Messias is, die Seun van God, Hy wat na die wêreld toe sou kom.”
28. Nadat sy dit gesê het, het sy teruggegaan en haar suster Maria gaan roep en stilletjies vir Maria gesê: “Die Leermeester is hier, en Hy roep jou.”
29. Toe sy dit hoor, het Maria gou-gou opgestaan en na Jesus toe gegaan.
30. Jesus het toe nog nie in die dorpie aangekom nie, maar was steeds op die plek waar Marta Hom ontmoet het.