Johannes 10:33-39 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

33. Die Jode het Hom geantwoord: “Dis nie oor die een of ander besondere daad dat ons jou wil stenig nie, maar oor laster. Jy wat ’n mens is, doen jouself voor as God.”

34. Jesus het hulle nog ’n keer geantwoord: “Is dit nie in julle wet opgeteken dat God gesê het: ‘Julle is gode’ nie?

35. As daardie mense wat God se boodskap ontvang het, gode genoem word – en die Skrif kan nie verbreek word nie –

36. hoe sê julle dan dat Hy wat deur die Vader afgesonder en na die wêreld toe gestuur is, laster omdat Hy gesê het: ‘Ek is die Seun van God’?

37. As Ek nie die werke van my Vader doen nie, moet julle ophou om in My te glo.

38. Maar as Ek dit doen en julle sou nie in Mý glo nie, glo dan die werke sodat julle kan begryp en weet dat die Vader in My en Ek in die Vader is.”

39. Hulle het weer ’n nuwe poging aangewend om Jesus te arresteer, maar Hy het hulle ontduik.

Johannes 10