Johannes 10:18-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

18. Niemand ontneem My my lewe nie, maar Ek offer dit uit my eie op. Ek het die volmag om dit op te offer en Ek het die volmag om dit weer op te neem. Dit is die opdrag wat Ek van die Vader ontvang het.”

19. Daar het toe nog meer verdeeldheid onder die Jode gekom oor hierdie woorde van Jesus.

20. Baie uit hulle geledere het gesê: “Hy is in die mag van ’n bose gees en hy is mal. Waarom luister julle nog na hom?”

21. Ander het gesê: “Hierdie woorde is nie dié van iemand wat in die mag van ’n bose gees is nie. ’n Bose gees kan tog nie blindes se oë oopmaak nie?”

22. Op daardie tydstip was dit die Fees van die Tempelwyding in Jerusalem. Dit was winter.

23. Jesus het rondgestap in die tempelgebied, in die pilaargang van Salomo.

24. Die Joodse leiers het toe ’n kring om Jesus gevorm en vir Hom gesê: “Hoe lank gaan jy ons nog aan ’n lyntjie hou? As jy die Messias is, sê dit vir ons padlangs.”

25. Jesus het hulle geantwoord: “Ek het dit vir julle gesê, maar julle glo My nie. My optrede is in die Naam van my Vader; hierdie dinge bevestig wie Ek is. Maar julle glo nie

26. omdat julle nie van my skape is nie.

27. My skape luister na my stem; Ek ken hulle en hulle volg My.

28. Ek sal ook die ewige lewe aan hulle gee, en hulle sal so nimmer as te nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand steel nie.

29. My Vader, wat hulle aan My gegee het, is magtiger as almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader steel nie.

30. Ek en die Vader is één.”

31. Die Jode het weer klippe opgetel om Hom te stenig.

32. Jesus het hulle geantwoord: “Ek het julle soveel goeie werke gewys wat van die Vader af kom. Op grond van watter een van hulle wil julle My nou stenig?”

Johannes 10