Jesaja 37:11-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Jy weet mos wat die konings van Assirië gedoen het in die een land na die ander. Hulle het almal platgeloop wat in hulle pad gestaan het. Sal jy dan gered word?

12. Het die gode van ander nasies hulle gered, nasies soos Gosan, Haran, Resef en die mense van Eden wat in Telassar was? Die vorige konings van Assirië het hulle almal uitgewis!

13. En wat het met die koning van Hamat en die koning van Arpad gebeur? Wat het gebeur met die konings van Sefarwajim, Hena en Awwa?”

14. Nadat Hiskia die briewe ontvang het en dit gelees het, het hy na die tempel van die Here gegaan. Hy het die briewe voor die Here oopgesprei.

15. Toe het hy hierdie gebed voor die Here gebid:

16. “Here, Almagtige, God van Israel, u troon is tussen die magtige gerubs! U alleen is God oor al die koninkryke van die aarde. U alleen het die hemele en die aarde geskep.

17. Hoor tog, Here, luister tog! Open u oë, Here, en kyk! Luister hoe Sanherib die lewende God uitgetart het.

18. “Dit is so, Here, dat die konings van Assirië al hierdie nasies en hulle lande verwoes het, net soos die boodskap sê.

19. “Hulle het inderdaad die gode van hierdie nasies in die vuur gegooi en dit verbrand. Natuurlik kon die Assiriërs dit vernietig! Want dis nie gode nie, slegs beelde van hout en steen wat mense se hande gemaak het!

Jesaja 37